Hessequa Harmonie Fees op Heidelberg Kaap

 Kuns en Kultuur in die Kontrei

Wat 'n onbeskryflike ervaring om weer vir 'n slaggie 'n kaapse draai in die kontrei te kon gooi.  Die gejaag na wind en vele verpligtinge in die moederstad weerhou my telkemale van 'n hartlike uitnodiging na die familieplaas ( 7de generasie tans) in die Heidelberg distrik.

Die Hessequa Harmonie fees is 'n kulterele fees wat jaarliks op Heidelberg Kaap aangebied word.  Hierdie keer het ek besluit om nie die fees mis te loop nie en my perd opgesaal na die platteland.  Neil Rademan, 'n inboorling van die omgewing is die grootkop agter die verfynde kulturele fees.  Hy het die fees 3 jaar gelede gestig met die oog om weer kuns en kultuur in die platteland terug te ploeg. Wat 'n belewenis!  Welbekende Suid Afrikaanse akteurs, skrywers, skilders en musici was aan die orde van die dag. Gaste het van heinde en verre saamgetrek om die fees by te woon en die Heidelberg Hotel (gebou in 1932) was stampvol bespreek!

Dit was hemels om die Rachmaninoff klavierkonsert no.2 'live' in die stadsaal te kon hoor om nie te praat van Breyten Breytenbach se liefdesgedigte voorgedra deur Ilzebet O in die Opstal (gebou in 1732).

'Poskaarte na Parys' was inderdaad 'n 'Le Chat Noir'  opvoering vertolk deur ons eie 'Edith Piaf' van Pretoria, Jacobi de Villiers.  Hierdie is maar net 'n paar van die uitmuntende vertonings, opvoerings en uitstallings wat plaasgevind het.

Die betowerende rit tussen garslande en canola velde oppad na die  Dasjesdrift teater was 'n lus vir die oog.  Hier het ek geluister na die vermaarde pianis Nina Schumann en haar uitverkose studente wat werke van Chopin en Scriabin vertolk het.

Die verfrissende vyfdag fees het inderdaad 'n 17de eeuse  atmosfeer herroep van kamermusiek en teater wat die gees en siel kosteloos verryk.

Hessequa Harmonie is 'n unieke plattelandse kunstefees wat nie misgeloop moet word nie!


Hotel
Heidelberg Hotel

Stadsaal

Opstal